English/Afrikaans
Tuisblad Biologiese vliegbeheer Luci Trap vir Skaap brommerbeheer Nylon Wolsakke Kontak ons

GEINTEGREERDE VLIEGBEHEER

Inleiding

Vlieë is seker die belangrikste verpesting vir mens en dier.Nie alleen is vlieë uiters irriterend nie,maar vlieë veroorsaak regstreeks groot produksie-verliese by plaasdiere-hoofsaaklik toe te skryf aan verlaagde voerinnames.Hierdie verliese manifesteer in beide verlaagde melkproduksie en verlaagde groeitempos by ander diere.Dit is ook bewys dat melk kwaliteit verlaag met toenemende vlieg-besmetting.Daarby is vlieë ook betrokke by die oordra van meer as sewentig siektes by mens en dier.Dit sluit onder andere in Cholera,Miltsiekte,Maagkoors,Tering,Polio,Salmonella,Tifuskoors, Mastitis,Newcastle siekte,Pienk oë en Amoebiese disentrie.

Vlieg Beheer

Vliegbeheer is noodsaaklik,maar ten spyte van ewigdurende pogings om vlieë uit te roei,word relatief min volhoubare sukses behaal. Doeltreffende chemiese middels word ten duurste ontwikkel,net om mettertyd hul doeltreffendheid te verloor met die opbou van weerstand van vlieë teen die middels. Die gevaar bestaan ook dat chemiese middels die natuurlike vyande van vlieë doodmaak,wat besliste nadele vir ekonomies volhoubare vliegbeheer inhou. Daar is daarom al meer konsensus dat vliegbeheer op 'n geïntegreerde manier aangepak moet word. Vir ekonomies volhoubare vliegbeheer is dit belangrik om die volgende aspekte in ag te neem :

  • Die lewenssiklus en biologie van vliegspesies betrokke.
  • Fisiese bestuursvereistes om die vliegplaag ten beste te bestuur soos uitleg van produksie-fasiliteite,misbeheer,ens.
  • Die rol van en doeltreffende gebruik van die vlieg se natuurlike vyande.
  • Die rol van en doeltreffende aanwending van chemiese middels.

Diereproduksie-eenhede behoort daadwerklik vir vliegbeheer te beplan met die oog op ekonomiese volhoubaarheid. Vliegbeheer het natuurlik koste-implikasies,maar 'n doeltreffende vliegbeheerprogram sal in 'n bate ontwikkel met die verlaging van produksie-verliese en afname in voorkoms van vlieg oordraagbare siektes.

Daar is 'n groot verskeidenheid vliegspesies wat 'n plaagstatus kan aanneem,maar die belangrikste is die gewone huisvlieg en die stalvlieg.Die huisvlieg irriteer diere deur saam te drom op vogtige plekke soos oë en plekke waar hulle kan voed soos spene. Die stalvlieg is 'n bytende vlieg wat voed op bloed en kom in masses voor op pense en bene van diere. Sulke diere is geïrriteerd en rusteloos,waai hul sterte,swaai hul koppe en stamp hul voete. Voerinnames daal en produksie-verliese volg. Die huisvlieg en stalvlieg het prakties soortgelyke lewenssiklusse met die huisvlieg 'n effens korter siklus. In die praktyk kom dit daarop neer dat die vliegwyfie voldoende voeding moet inneem,waarna eiers in tipiese "pakkies" van tot 50 eiers op 'n keer gelê word.'n Enkele vliegwyfie kan in haar leeftyd tot 800 eiers produseer. Vliegeiers ontwikkel binne 12 tot 18 uur tot larwes,gaan deur drie larwe-stadiums wat een tot drie weke kan duur waarna die larwes verpaap. Papies kan vanaf drie dae tot drie weke neem om uit te broei,afhangende van vliegspesie en omgewings-toestande. Vlieë kom as volwassenes uit papies tevoorskyn.

Die belangrikste broeiplekke vir vlieë is mishope,mis-afloopsones,onder en rondom voerkrippe, verspilde voer,kuilvoer en verrottende hooi.Dit spreek vanself dat potensiële vliegbroeiplekke so bestuur moet word dat dit die minimum vliegbroei-aktiwiteit sal veroorsaak. Hou mis so droog as moontlik,sorg vir goeie dreinering,beperk lekkende water,verwyder verspilde voer,kuilvoer en verrottende hooi. Wees bedag op die voorkoms van potensiële vliegbroeiplekke en bestuur die situasie ten beste om vlieggetalle te beperk.

Die volgende stap is om volwasse vlieë te beheer sodat minder vliegeiers gelê word. Vlieë kan gevang word in verskeie lokvalle in die handel beskikbaar of gedood word met doeltreffende chemikalieë. Chemikalieë moet gespuit of geverf word op mure,pale,onder dakke en ander vliegrusplekke. Diere kan ook gedip word met vliegdodende chemikalieë. Om die natuurlike vyande van vlieë te beskerm,moet sorg gedra word dat skadelike chemikalieë nie op die vliegbroeiplekke kom nie. Die langer lewenssiklus van vliegparasiete veroorsaak dat hul vermoë om gif te weerstaan,minder as die van vlieë is.'n Uitsondering op die reël is handelsmerke met die aktiewe bestanddeel Siromasien,'n larwesied,wat vlieglarwes,merendeels in die vroeë stadia,dood. Siromasien maak nie die belangrikste vliegparasiete dood nie.

Daar is 'n toenemende besef dat daarna gestreef moet word om sover moontlik in harmonie met die omgewing te produseer. Met vliegbeheer is daar nou ook in Suid-Afrika die geleentheid om deur die gebruik van vliegparasiete te beweeg na 'n meer omgewingsvriendelike vliegbeheerprogram. Dit is moontlik deur die inbring van groot getalle parasitiese wespe wat uitsluitlik op vliegpapies voed en in vliegpapies voortplant. Parasietwyfies fynkam vliegbroeiplekke om vliegpapies op te spoor. Die wyfie steek die vliegpapie,voed op die ontwikkelende vlieg in die papie,en kan ook haar eiers in die papie lê. Die ontwikkelende vlieg in die papie word gedood en in plaas van vlieë,broei daar ongeveer 19 dae later 'n nuwe generasie parasitiese wespe uit wat die proses van parasitisme voortsit. Soos die wesp- populasie toeneem,broei al hoe minder vlieë uit sodat die behoefte vir volwasse vliegbeheer dramaties afneem en afhangende van omstandighede,selfs kan verdwyn. Die doel met die loslaat van parasitiese wespe is nie vir 'n sogenaamde "balans in die natuur" nie. Vlieë se aanteelvermoë is hoër as die van die parasiete wat dit noodsaaklik maak dat 'n oormag parasiete op gereelde basis losgelaat moet word om die uitbroei van vlieë te onderdruk. Daarom word vliegparasiete op gereelde basis,byvoorbeeld vierweekliks losgelaat. Die voordele van biologiese vliegbeheer is onder andere :

  • Vlieë word beheer voor hulle kan irriteer en skade veroorsaak.
  • Dit is maklik en gerieflik-effektief selfs op baie moeilik bereikbare plekke.
  • Beperk chemiese besoedeling.
  • Vlieë kan nie weerstand teen parasiete opbou nie,die parasiete bied 'n langtermyn oplossing.

Om op te som,doeltreffende vliegbeheer behels die toepas van 'n geïntegreerde vliegbeheerprogram wat bestaan uit :

  • Doelgerigte bestuur van potensiële vliegbroeiplekke om die uitbroei van vlieë te beperk.
  • Beheer van volwasse vlieë,chemies of andersins,sodat minder eiers gelê word.
  • Loslaatprogram van parasitiese wespe wat op vliegpapies parasiteer en die uitbroei van vlieë effektief beperk.

Onthou,'n vlieg wat jy nie sien nie,kan jou nie pla nie!

Terug