English/Afrikaans
Tuisblad Biologiese vliegbeheer Luci Trap vir Skaap brommerbeheer Nylon Wolsakke Kontak ons

Gebruiks-aanwysings : Parasitiese wespe vir vliegbeheer.

Baie geluk met u keuse om biologiese vliegbeheer toe te pas. Die beste resultate word verkry wanneer vliegbeheer in `n gëintegreerde program aangespreek word. Dit beteken:

  1. beperk vliegbroeiplekke sover moontlik
  2. beheer volwasse vlieë, maar hou gifstowwe weg van vliegbroeiplekke
  3. volg `n loslatingsprogram met BISA parasitiese wespe wat die uitbroei van vlieë betekenisvol kan voorkom

Die BISA-produk is geparasiteerde vliegpapies waarin parasitiese wespe ontwikkel om as volwassenes te voorskyn te kom. Dit is lewende organismes wat met sorg in BISA se insektarium geteel word om aan die hoogste standaard te voldoen. Hanteer die produk as lewende organismes en vermy toestande wat die ontwikkelende wespe kan dood, bv, blootstelling aan hoë temperature, direkte sonlig, versuiping, gifstowwe, ens.

 

UITPLASING VAN WESPE

Die doel is om die wespe in kontak met vliegpapies te bring sodat vlieë voor uitbroei gedood kan word, en in plaas van vlieë, nog wespe sal uitbroei.

 

Bisa beveel twee uitplaasmetodes aan:

  1. Indien die bron van vliegpapies goed bekend is, kan die wespe direk op die betrokke plekke uitgeplaas word waarna dit ligweg met beskikbare materiaal soos strooi bedek kan word. In hierdie geval is dit belangrik dat die wespe reeds moet begin uitbroei om skade a.g.v. klimaat en hul vyande sover moontlik te beperk.
  2. Geparasiteerde vliegpapies kan in spesiale houers by die vliegbroeiplekke uitgeplaas word. Die houers beskerm en beskut die geparasiteerde papies totdat hulle uitbroei en die houer verlaat om vliegpapies in hul omgewing te vind waarop hulle kan voed en waarin hulle hul eiers kan lê. Die houers moet so na as moontlik aan die vliegbroeiplek geplaas word - die wespe kan oor kort afstande versprei, maar nader is altyd beter. Die gebruik van houers het die volgende voordele:
    • Beskerm die produk teen klimaat en hul vyande totdat wespe uitbroei
    • Gerieflik en "skoon" manier van uitplaas
    • Papies kan reeds voor die wespe uitbroei, suksesvol uitgeplaas word

MAAK VAN UITPLAAS HOUERS

`n Houer soos WIT 1 liter of 2 liter emmertjies is geskik. Boor die bodem en kante van die emmers vol 2mm gaatjies. Hoe meer gaatjies, hoe beter en maak seker dat gaatjies tot op die hoeke bo en onder geboor is vir lugvloei en dreinering in geval van reën.

VUL VAN HOUERS

Maak die sakkies met papies oop en ledig die sakkies in die emmers. Die 1 liter houer kan 1 of 2 sakkies neem en die 2 liter emmer tot 4 sakkies.

OPHANG VAN EMMERS

Maak die emmers goed met bv binddraad vas, buite bereik van diere wat die houers kan beskadig. Maak die emmers so vas dat sterk winde dit nie oormatig sal rondswaai nie. In baie warm omgewings is dit verkieslik om emmers in skadu te plaas, of van skadu soos strooi/gras op die emmer te voorsien.

Miere is belangrike predatore van wespe. Indien miere pla, moet iets soos ghries aan die handvatsel of ophang-draad gesmeer word om hulle uit die emmer te hou.

Bel gerus u BISA agent vir enige verdere toeligting.

Terug